#slaaptydstories
Explore tagged Tumblr posts
Photo
"Kyk hoe lyk jou skoene, Tom!" het sy Ma kwaad gesê. "Jy het alweer in die modder voetbal gespeel. Jy kan nie weer na ete met daardie skoene skool toe gaan nie. En kyk na jou klere - jy is die ene modder! Jy is 'n vreeslike stoute kind!"
Tom het baie verleë gelyk. "Ek is baie jammer," het hy gesê.
"Dit help nie om net jammer te wees nie," het sy suster Kittie gesê, "dit sal nie die modder van jou klere afkry nie."
"En jy hoef nie daardie toontjie aan te slaan nie, Kittie. Die hele more al is ek besig om goeters weer op hulle plek te sit, wat jy sommer orals laat rondlê het. Ek het nog nooit twee sulke onbedagsame kinders gesien soos julle twee nie," het Mammie gesê.
"Is die ete klaar?" het Tom gevra om die onderwerp te verander.
"Hoor nou weer daar!" het Mammie aangegaan, "jy wil jou kos op tyd hê, maar jy dink nooit aan al die ekstra werk wat jy my gee net omdat jy so onbedagsaam is nie."
Natuurlik was die ete betyds gereed en Kittie en Tom het heerlik geëet terwyl Mammie haar bes probeer het om die modder van Tom se klere af te kry sodat hy nie laat vir skool sal wees nie.
Die ete was gou verby en Tom is daar weg met 'n vol maag en 'n leë kop, want hy het alles vergeet wat sy Ma gesê het. Maar hy sou eerlank 'n les leer wat hy nie gou sou vergeet nie. Dit het sommer nog die volgende dag gebeur.
Girts!
Tom het in 'n boom in die park geklim toe hy voel dat iets hom steek. Hy het sommer gelos en deel van sy broek het in die boom agtergebly. Dit was 'n lelike skeur en hy het huis toe gehardloop so vinnig soos hy kon, terwyl hy met sy een hand probeer het om die skeur toe te hou. Hy kon raai wat sou gebeur wanneer hy tuiskom. Maar hy het hom vergis.
"Ag, Kittie," het Tom uitgeroep, "kyk hoe het ek my broek geskeur! Waar is Mamma?"
"Stil," het Kittie gefluister, "Mamma is in die bed. Sy het skielik siek geword en ons moes die dokter laat kom. Hy het gesê dat sy ten minste drie weke in die bed sal moet bly."
"Op die aarde!" het Tom uitgeroep, "en wat gaan van ons word?"
"Ons sal moet aansukkel so goed as ons kan, Boetie."
"Maar wat van my broek? Dit moet heelgemaak word voordat ek skool toe gaan. Ek gaan nou na Mammie toe." "Nee, moenie na haar toe gaan nie. Die dokter het gesê dat Mamma nie lastig geval moet word nie."
"Maar my broek moet heeltemaak word!" het Tom kwaad gesê.
"Wel, dan sal jy dit self moet heelmaak."
"Jy weet goed ek kan nie."
"Wel, Mammie sal dit ook nie kan doen nie. Ek sal dit seker moet doen."
Dit was asof Kittie skielik die verantwoordelikheid besef het wat nou op haar gerus het. Saam het hulle twee darem daarin geslaag om die groot skeur te lap. En daar was die ete om te berei - hul eie ete. Nks was nog klaar nie, daar was niks gekook nie en daar was ook maar min kos in die kas.
"Ek sal gou iets gaan koop," het Kittie gesê, "as jy solank die tafel sal dek."
Dit was 'n nuwe ondervinding vir hulle albei. Tom was vreeslik honger teen die tyd dat Kittie teruggekom het, maar hy het besef dat dit nie sou help om teen haar te kla nie. Hulle het hul kos in stilte geëet. Toe moes hulle die skottelgoed was. Daar moes ook 'n briefie aan die onderwyser geskryf word om te sê waarom Kittie uit die skool moes bly. Daar was so baie dinge om te doen!
"Tom, jy sal vroeg huis toe kom om my te help, sal jy nie?" het Kittie gesê toe Tom daar weg is skool toe.
Tom het nog nooiot so vroeg huis toe gekom nie, teen wil en dank moes hy maar die voetbalspeel vergeet.
"Hoe gaan dit met Mamma?" het hy gevra.
"Maar nog so," het Kittie geantwoord,.
"Wat wil jy hê moet ek doen?" het Tom gevra.
"O Tom, ek het nooit geweet dat daar soveel is om te doen nie. Ek was nog altyd besig vandat jy hier weg is en dit lyk of ek nog niks klaargekry het nie. Gaan haal bietjie steenkool," en toe het sy begin huil.
"Dit sal nie help om te huil nie, Kittie."
"Ek wens dat Mammie gou gesond word," het sy huilend gesê.
"Natuurllik sal sy," het Tom gesê in 'n poging om haar te troos. "Ek sal maar nou die steenkool gaan haal."
Met verloop van tyd het Tom die beste sy van sy karakter geopenbaar. Hy was nie meer so onbedagsaam nie, want daar was niemand op wie hy dinge so maklik kon afskuif nie. Daar was net Kittie en hy gevoel dat sy al die hulp nodig het wat hy kon gee. Kittie self het geleer dat sy nie langer kon verwag dat iemand altyd agter haar moes loop om dinge op hul plek te hou nie. Wat sy nou rondgegooi het, moes sy maar self weer gaan optel. Daar was nie meer 'n gekla oor die kos nie, want dit was kos wat hulle self gekook het. As dit nie altyd lekker was nie, dan was dit hulle eie skuld.
Eindelik was Mammie weer op die been. En hoe bly was daardie twee kinders nie! Nie net omdat Mammie gesond was nie, maar omdat daar weer iemand was om hulle te help met hulle laste.
Mammie was baie in haar skik oor die manier waarop die twee huisgehou het terwyl sy siek was. Maar sy was die meeste verras oor Tom.
"Wat het die onbedagsame Tom oorgekom?" het sy laggend gevra toe sy hom sien houtkap, steenkool aandra, skottelgoed was en selfs help ertappels skil."Dit is mos nie dieselfde seun wat ek eers gehad het nie. Die ou Tom is weg - hy het heeltemal verdwyn. Ek sal hom nou maar Bedagsame Tom moet noem," het Mammie bly en trots gesê.
0 notes
Text
Slaaptydstories in Afrikaans
Onder die Waterval
Was julle al ooit by die Niagara-waterval? So nie, is ek seker dat julle eendag sal wil gaan kyk, nie waar nie?
Daardie waterval is een van die natuurwonders van diewêreld, en niemand kan na die magtige watermassa wat so oor die afgrond stort, kyk, sonder om ontroer te word deur die verruklike grootsheid van die skouspel nie.
Maar die meeste mense wat hierdie natuurtoneel besoek, sien dit gewoonlik nooit in die grootsheid daarvan nie. Om dit te kan sien, moet 'n mens heeltemal onder die waterval gaan staan sodat die water bo-oor jou verbystort.
Onder die waterval?
Ja, want niemand het 'n tonnel deur die soliede rots gekap sodat besoekers, nadat hulle met 'n hyser na benede gegaan het, onder die bruisende watermassa kan staan.
Word 'n mens nat?
Ja, natuurlik, en jy moet vir die okkasie aantrek; maar jy kan die mondering wat jy nodig het daar huur, en hoe snaaks lyk 'n mens daarin! In die prent op bladsy 174 kan julle mense sien met die waterproef-mondering aan. Hulle lyk amper soos kabouters uit 'n towerland, lyk hulle nie?
En dit lyk soos 'n towerland daaronder, want alles is so vreemd en wonderlik.
Kom saam met my, en besigtig die wondertoneel. Is dit nie 'n magtige skouspel nie? Daar skyn geen einde te wees aan die magtige watervloed waar dit donderend oor jou stort, en jou van kop tot tone natmaak nie. Water - daar is oseane en oseane daarvan - verander in kokende wit bruiswater soos dit neerstort onderweg na die see.
As 'n mens reg na bo kyk, kan jy die blou lug sien, en skielik word die liefde van Jesus vir jou duideliker. Sy liefde is net soos hierdie magtige watermassa wat ons feitelik heeltemal omhul.
Die Bybel leer ons dat daar geen perke aan Sy liefde is nie, en dat Hy ons 'volkome red'. (Heb. 7:25)
Dit is ewig, want Hy het lief 'tot die einde toe.' (Joh. 13:1)
Sy liefde is sonder maat, 'Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees.' Ps. 103:11.
Soos die magtige Niagara-waterval, vloei dit rondom ons en vertroos en besiel ons, en voorsien in al ons behoeftes 'na sy rykdom in heerlikehid. ' (Filip. 4:19)
Dit laat my dink aan daardie mooi lied wat ons so dikwels sing:
"Diep en wyd en heerlikSoos die blou omhoog,Magtig, onoorwinklikSpan Sy liefdeboog."
Het julle ondervind dat Sy liefde so is - soos 'n oseaan van goedheid en vriendelikheid en genade wat sommer bo-oor stroom?
Elkeen van ons kan daardie liefde ondervind as ons wil.
Staan net onder die waterval en kyk na bo.
Slaaptyd stories
Deel Vier
deur Arthur S. Maxwell
0 notes
Text
Slaaptydstories in Afrikaans
Gebreekte Beskuitjies
Hier is seker een van die mooiste stories wat ek gehoor het. Hoe wens ek dat ek die betrokke seuntjie se naam ken, maar ek ken dit nie, en daarom sal ek hom sommer Tommy noem. Ek is seker die engele sal verstaan.
Tommy was 'n arm seuntjie wie se Vader werkloos was. Sy Moeder het ander mense se wasgoed gewas vir 'n paar sjielings. Die hele gesin het in een vertrek in die agterbuurt van Londen gewoon. Maar ten spyte van daardie ongunstige toestande, het Tommy 'n hart van goud gehad.
Een sondagnamiddag, terwyl hy in die donker, nou straatjie naby sy huis gespeel het, het hy mense, aangetrek in hulle beste klere sien verbyloop.
Sy nuuskierigheid is geprikkel. "waar gaan hulle almal heen?" het hy aan een van sy maats gevra. "Hulle gaan seker kerk toe," was die antwoord.
"Hulle gaan liedere sing, en daarna sal hulle lusiter na 'n man wat preek."
"Nee," het 'n ander seun gesê. "Hulle gaan nie almal kerk toe nie, maar hulle gaan na die Oesfees."
"Na die wat?" het Tommy gevra.
"Na die Oesfees. Weet jy nie daarvan nie? Hulle neem ertappels, wortels, kool, en rape, en stapel dit voor die preekstoel op. Het jy nog nooit so 'n fees gesien nie?"
Tommy het erken dat hy nog nie so 'n fees gesien het nie.
"Hoekom gaan jy nie na hierdie een kyk nie?" het sy vriend gevra.
Tommy het gedink dat dit 'n goeie idee is, en toe het hy koersgevat na die diens. Dit was nie in 'n kerk nie, maar in 'n sendingsaal. Hy het daardie saal - die Hoxton market Mission - al voorheen gesien, want die naam was in groot letters bokant die deur. Hy was al 'n hele paar maal in daardie saal vir etes wanneer hy baie honger was. Hy en ander kinders het daardie liedere gesing, en toe het 'n vriendelike ou man vir hulle vertel van die liefde van Jesus. Hy het aangesluit by ander mense wat daarheen gegaan het, en hy het by die deur ingeloer.
Hy is verras deur wat hy gesien het, want hy het nog nooit voorheen so iets gesien nie. Sy vriend was reg. Rondom die preekstoel was daar ertappels, wortels, kool en rape, en nog baie ander goed soos appels, lemoene, piesangs, groot trosse druiwe, en groot, heerlike brode - groter as wat hy nog ooit gesien het.
Uit pure verbasing het hy saggies gefluit. Die uitdrukking op sy gesig het getoon hoe verbaas hy was. "Dit lyk of jy baie groot belang stel in alles," het 'n vriendelike stem gesê.
Tommy het omgekyk, en toe het hy begin weghardloop.
"Moenie weggaan nie; jy kan bly as jy wil."
"Mag ek?" het Tommy gevra. "Maar waarvoor is al daardie goed?"
"Weet jy nie?" Wel, eenmaal per jaar bring elkeen iets wat in die aarde gegroei het, as bewys dat hulle erken dat alle goeie dinge van God kom en dat hulle dankbaar is vir die oes."
"Moet hulle die goed self kweek?"
"Nee; dit kan ook nie hier gebeur nie omdat daar geen tuine is nie. Die mense spaar hulle pennies op en dan koop hulle iets en bring dit. Na alles verby is, word die goed aan die armes uitgedeel."
"Moet almal iets bring?" het Tommy verleë gevra.
"Nee," het die vriendelike dame gesê, "net diegene wat voel dat hulle iets wil bring. Baie van die mense het nie eens 'n paar pennies nie, en die Here verstaan alles."
"Ek sal maar gaan," het Tommy gesê.
Hy het omgedraai, en stil deur die stroom mense geglip. Toe het hy in sy sak gevoel. Ja, daar is dit nog - sy enigste pennie in die hele wêreld. Hy het dit net gister in die straat opgetel, en hy was van plan om dit te bêre en vir hom lekkers te koop.
"Miskien het hulle in daardie winkeltjie iets," het hy vir homself gesê. "Ek hoop dit sal nie te klein wees nie. Daardie brode was so groot."
Hy het die winkeltjie binnegegaan en begin rondkyk. Sal hy een van daardie suiglekkers koop? Nee, dit sal nie geskik wees nie. Hy het nog vir 'n rukkie gestaan en rondkyk.
O, daar is iets.
"Gebreekte beskuitjies - een pennie per pakkie."
Beskuitjies? Ja, hulle sal deug. Want hulle is mos gemaak van iets wat in die grond gekweek is, net soos daardie groot brode wat hy gesien het. En daardie kardoese waarin die beskuitjies is, is glad nie te klein nie.
Tommy het een van die kardoese gekoop, die winkel dadelik verlaat, en teruggestap na die sendingsaal.
Hy het nie die moed gehad om na die voordeur te gaan nie, maar hy het geweet dat daar 'n agterdeur is, as dit maar net oop was -
Dit was.
Hy het senuweeagtig gevoel, want hy was bang dat iemand hom sou sien. Maar daar het nog mense ingegaan, sommige ook by die agterdeur. Hy het toe sommer saam met hulle ingeglip en gestap na die preekstoel waar die goed orals opgestapel was.
Styf in sy warm, vuil handjie, het hy die kosbare kardoes vasgehou.
"Gou nou! voordat iemand jou sien," het hy gedink.
En langs een van daardie groot brode het hy die kardoes neergesit.
Nimand het hom gesien dit doen nie, want daar was te veel mense, en die ander wat reeds in hulle sitplekke was, was te besig om te gesels.
Tommy het vir hom daar ver 'n sitplek gesoek, en niemand nie, nie eens daardie vriendelike dame wat met hom gepraat het, het geweet hy is daar nie.
Na die diens is hy terug na sy troostelose ou huisie, maar in sy hart het hy buitengewoon gelukkig gevoel. Ek is seker dat daar ook blydskap in die hemel was toe die engele kom vertel het van sy mooi daad van opoffering. Daardie kardoes gebreekte beskuitjies is natuurlik daar gevind. Iemand het dit later ontdek by die groot brood en daar het trane gekom in die oë van daardie persoon waar hy gedink het aan die edele kinderliefde wat aanleiding gegee het tot die daad.
Hy het my later vertel dat hy gedink het dat dit die beste van al daardie gifte was.
Ek dink ook so, en julle?
Ook het dit my laat dink aan 'n storie wat Jesus vertel het van die arm weduwee wat eendag na die tempel gegaan en gesien het hoe die mense hulle offergawes gee, en toe ook haar twee geldstukkies in die skatkis gegooi het - die waarde daavan was omtrent een oortjie.
Toe het Jesus aan sy dissipels gesê: "Voorwaar Ek se vir julle, hierdie arm weduwee het meer ingegooi as almal wat in die skatkis gegooi het. Want hulle het almal uit hulle oorvloed ingegooi; maar sy het uit haar gebrek ingegooi alles wat sy gehad het." Mark. 12:43-44.
Slaaptyd stories
Deel Vier
deur Arthur S. Maxwell
1 note
·
View note
Text
Hulle het die Tafel gedek | Slaaptydstories in Afrikaans
Nie baie lank gelede nie het ek die verhaal van "Brood uit die Hemel" aan 'n gehoor vertel. Na die diens het 'n man na my toe gekom en gesê dat hy en sy huisgesin 'n soortgelyke ondervinding gehad het.
"Ek onthou dit," het hy aan my gesê, "asof dit gister gebeur het. Ons het 'n baie slegte winter gehad en siekte en werkloosheid het ons ons laaste pennie laat uitgee. Wat kos betref, was daar niks in die huis oor nie, glad niks nie.
"Die ergste van alles was wanneer die kinders by die huis kom en hulle kos soos gewoonlik verwag. Moeder en ek het nie geweet wat om vir hulle te sê nie. Ons het nog altyd iets gevind om hulle nie van die honger te laat omkom nie, maar n nou het ons by die einde gekom. Dit was vreeslik swaar om aan hulle te verduidelik dat daar regtig niks was om te eet nie." "Hoekom het jy nie ander mense vertel van jou moeilikheid nie?" het ek gevra.
"Ons wou nie," het hy geantwoord. "Wanneer iemand daardie stadium bereik het wil hy niemand vertel nie."
"Ek verstaan," het ek gesê. "Wat het jy toe gedoen?" "Wel," het hy verder vertel, "ek het die kinders geroep en ons het die saak bespreek. Hulle het gesê, 'Hoekom vra ons nie vir Jesus om vir ons kos te stuur nie? Pappie sê altyd Hy kan ons alles gee wat ons nodig het en Pappie sê ons lees in die bybel dat die regverdige nooit verlaat sal word en dat sy nageslag nooit brood sal soek nie. Hoekom vertel ons Hom dan nie dat ons nie kos het nie?"
"En toe?" het ek gevra.
"Ons het gevra," het hy geantwoord. "Ek kan nog sien hoe ons om die tafel gekniel het. Maar voordat ons gebid het, het my klein dogtertjie gepraat. 'Pappie', het sy gesê, 'dink Pappie nie ons moet alles doen om vir Jesus te wys dat ons regtig glo dat Hy vir ons kos gaan stuur nie?'
"Ons het almal gewonder wat sy bedoel en ek het haar toe gevra, "Wat kan ons nog doen, kleinding? Jesus kan sien die spens is leeg, nie so nie?" "O, ja," het sy geantwoord, maar dink Pappie nie dat as ons die tafel dek en die borde en die messe en die vurke regsit, Hy kan sien dat ons regtig glo dat Hy ons dadelik iets sal stuur om te eet nie?" "Ons het geglimlag, maar ek het gedink, "Ek moenie minder geloof as my klein dogtertjie hê nie." Ons gooi toe die tafeldoek oor en kry die borde en die messe en die vurke en sit hulle reg. Toe die tafel mooi gedek was, het ons daar neergekniel om te bid. "Dit was 'n wonderlike biduur. Ek onthou hoe my klein dogtertjie gebid het. "Liewe Jesus," het sy gesê, "U sien dat ons die tafel gedek het om U te wys dat ons glo dat U ons gaan help. Stuur ons asseblief kos om in die leë borde te skep." "En wat het toe gebeur?"
"Dit was wonderlik," antwoord my vriend. "So wonderlik dat Meneer dit dalk nie sal wil glo nie. Maar ons het skaars van ons knieë af opgestaan of iemand het aan die voordeur geklop. Ek het gaan oopmaak en daar het twee vroue gestaan, elkeen met 'n mandjie vol allerhande eetware. Hulle was feitlik vreemdelinge vir ons, maar hulle het ons vertel dat hulle lus gevoel het om ons iets te bring om te eet. Ons het hulle ingenooi en die tafel gewys wat ons gedek het en hulle vertel dat ons net klaar gebid het toe hulle geklop het. Regtig, ek weet nie wie was die gelukkigste, of ons of hulle nie."
"Ek dink ek weet wie was die blyste van almal," het ek gesê. "Die klein dogtertjie."
"Ek dink ook so," het hy gesê, "want dit het regtig gelyk of Jesus twee engele uit die hemel gestuur het om ons gebed te verhoor."
"En miskien het Hy," het ek sy geloof aangemoedig. "Dit sou nie die eerste maal wees dat getroue kinders van die Here ontwetend engele in hulle huise ontvang het nie."
0 notes
Text
Slaaptydstories in Afrikaans | Gered deur ‘n ui
Klein John was Pappie se liefling. Alles wat hy gedoen het, was reg in Pappie se oë.
Soms het Moeder, wanneer Pappie tuiskom, vertel hoe stout John was. Maar Pappie, sonder om ooit te simpatiseer met Moeder, het altyd vir hom kant gekies, en gesê, "Maar 'n kind moet tog speel."
Toe het hy die ander dag die skoon wasgoed vreeslik vuil gesmeer het met sy vuil handjies, het Pappie vir hom gepleit en gesê, "Maar hy het mos nie geweet dat dit skoon wasgoed is nie, of hy sou dit nie gedoen het nie."
Maar eendag moes Pappie self deurloop. Hy was in die stad, en toe ontdek het dat hy 'n belangrike dokument by die huis vergeet het. Hy was vreeslik ontsteld daaroor, want hy was nie seker of hy dit miskien op die trein verloor het nie. Hy is toe dadelik na die naaste telefoon om Mammie te vra of hy dit miskien op sy lessenaar laat lê het.
En dit is wat gebeur het:
"Is dit Henford 4242?"
"Jaaaaa."
"Is dit Henford 4242?"
"Hiiiiii."
"Daar is iets verkeerd met hierdie telefoon. Is dit jy Maggie?"
"Dad-dad-dad-dad-dad-dad."
"Wat is dan verkeerd? Ek wil die dokument hê wat ek vanoggend by die huis vergeet het."
"Goo-goo-goo-goo-goo-goo."
"Kan jy nie verstaan wat ek sê nie?" Ek het daardie dokument verloor, of ten minste ek het dit nie. Is dit daar by die huis? Kan jy my hoor? is dit Henford 4242?"
"Dad-dad-dad-dad-dad-dad."
Moedeloos het Pappie maar die poging opgegee. Toe hy daardie aand tuiskom, het hy om verduideliking gevra. Hy kan nie geld so mors op telefoonoproeope nie. Waarom het iemand hom nie op intelligente wyse geantwoord nie? Wie het al daardie geluide gemaak terwyl hy so dringend wou weet wat van die belangrike dokument geword het. En so het dit aangegaan.
Moeder het gewag totdat hy heeltemal kaar was, en toe het sy begin lag.
"Ek het ingekom net toe jy die gehoorbuis teruggesit het," het sy gesê, "en ek sien vir klein John besig om op die telefoon te praat asof hy 'n grootmens was."
"Wel, wel" het Pappie gesê. "Dan was dit John. Hy is 'n baie skrander seun. Ek sê mos altyd dat hy baie meer intelligensie het as ander kinders. Wag, ek gaan vir hom 'n soen gee, al slaap hy ook."
"Nou praat ek nie meer nie!" het Moeder gesê, onderwyl Pappie met die trap op is na John se kamer.
Slaaptyd stories
Deel Vier
deur Arthur S. Maxwell
0 notes
Text
Gered deur ‘n ui
In die vroeë dae in Amerika, toe die Westelike State nog in hulle ontwikkelingstadium was, moes die predikante baie hard wer. Hulle het arbeidskringe gehad en hulle moes van die een na die ander groep gelowiges ry om die evangelie te verkondig, kinders te doop, huwelike te bevestig, en die Avondmaal te bedien. Soms was hulle vir maande van die huis af weg, en hulle het duisende myle per jaar te perd gery.
Meneer Matthews was een van hierdie soort predikante. Hy het 'n baie groot arbeidskring gehad wat vir honderde myle in alle rigtings gestrek het, en waar sy pligte hom gedurig geroep het. Met sy baie werk, en 'n gesin van twaalf kinders, het hy dit soms maar swaar gehad.
Toe hy eendag weer tuiskom na 'n lang afwesigheid, het hy gevind dat sy seun Jack nie die werk klaar gemaak het wat hy hom gegee het nie. Hy was baie kwaad, en hy het Jack 'n goeie pak gegee. Vader het aangedring op stipte gehoorsaamheid.
Dit was vir Jack 'n baie groot vernedering, veral daar hy gevoel dat hy die pak nie verdien het nie. Dit was te veel vir Jack, en hy het besluit om die huis te verlaat.
Sy suster, Margaret, wat omtrent so oud soos hy was, het hom gesoebat om dit nie te doen nie, maar hy wou nie luister nie. Sy het hom gevra om eers 'n paar dae oor die saak te dink, maar hy was vasberade.
Die volgend oggend was hy weg, met 'n besluit in sy hart om nooit weer na sy Vader se huis terug te kom nie.
Margaret het met Jack gesimpatiseer, en sy het haar Vader geblameer vir wat gebeur het. Sy wou toe niks meer met haar Vader se godsdiens te doen hê nie.
Sy het met verloop van tyd meer verbitterd geraak. Sy het byna nooit met haar ouers gepraat nie, en sy het beslis geweier om die huisgodsdiens by te woon. Sy wou nie meer haar Bybel lees nie, en het ook nie meer gebid nie. In haar hart het sy 'n besluit geneem dat sy nooit 'n Christen sou word nie, nooit nie!
Van die dag af dat jack weg is, het hulle nooit van hom gehoor nie. Dit het Margaret baie aangetas, en dit het haar hart verhard.
Een oggend, terwyl Moeder besig was met die bereiding van die middagete, het sy 'n ui nodig gehad, en daar Margaret in die nabyheid was, het ys haar geroep en gesê: "Margaret, ek het nog 'n ui nodig vir hierdie bredie. Sal jy nie asselief vir my een gaan haal nie?"
"Waar is die uit?," het Margeret kil gevra.
"Hulle is in die stoor op die solder," het Moeder geantwoord. "Wees versigtig as jy met die leer opklim. Bring sommer 'n hele paar terwyl jy tot gaan."
Sonder 'n woord, of selfs 'n glimlag is sy daar weg. Dit was baie lank dat sy laas geglimlag het, en sy het net haar kans afgewag om ook weg te loop. Haar plan was om na Jack te gaan soek.
Sy is na die stoor, en het met die leer op die solder geklim; daar het sy die oop uie gesien wat vir die winter gebêre is. Sy het ses van die uie geneem en wou net weer met die leer afklim, toe sy iemand onder hoor loop. Iemand het na die leer toe aangestap gekom.
Wie sou dit wees?
Sy het geraai dat dit haar Vader moet wees, en hy was die laaste persoon wat sy op daardie oomblik wou sien. Skielik het daar weer 'n vlaag van woede in haar hart opgewel. Sy wou nie het hom praat of hom selfs sien nie! Maar wat kon sy nou doen?
Daar het 'n ou deur teen die muur op die solder gestaan. Sy het besluit om agter daardie deur te gaan wegkruip, en sy is op haar tone daarheen. Binne 'n paar oomblikke was haar Vader op die solder.
Sy was vreeslik bang dat hy daar daar sou ontdek. Sy het haar asem opgehou en gehoop dat hy gou sou loop as hy niemand daarbo kry nie.
Maar hy het nie geloop nie. Margaret het 'n geluid gehoor asof iets saggies op die vloer neerplof, en sy was vreeslik bang. Na so 'n rukkie het sy haar Vader hoor praat. Sy het gewonder of iemand saam met hom op die solder geklim het.
Nee. Hy was besig om te bid!
Daar het Margaret geluister na die wonderlikste gebed wat sy nog ooit gehoor het - en sy kon nie daarvoor weghardloop nie. Sy moes bly en elke woord hoor.
Vader het vir sy gesin gebid. Vir elke kind, van die oudste tot die jongste. Vir Margaret ook, en veral vir Jack. Toe hy by Jack se naam kom het hy bitterlik begin huil asof sy hart totaal gebroke was. Hy het God gevra om hom te vergewe omdat hy so kwaad vir Jack was, en hy het God gesmeek om met Sy Gees in Jack se hart te werk en hom weer terug te bring.
Margaret was totaal verslae.
Dus het Vader tog vir Jack lief, en wil hy hom baie graag terug he!
En wat meer is, hy het vir haar, Margeret, ook gebid - sy wat so onbeskof teenoor hom was, en so verbitterd van die dag af dat Jack weg is! Sy het geweet dat sy nie so vir haar Vader gebid het nie.
Skielik het sy gevoel dat sy dit glad nie meer kon uithou nie. Sy moes iets doen of haar hart sou breek.
Toe Margaret daar agter die deur uitkom, was Vader net besig om sy oë af te vee - hy was nog op sy knieë.
"Vader, ek is baie jammer," het sy gesê terwyl sy haar arms om sy nek slaan en uitbars in trane.
"Ons is almal bitter jammer, Margaret," het hy gesê. En van daardie oomblik af was alles weer reg. Moeder het begin ongeduldig word omdat Margaret so lank wegbly; sy kon nie verstaan waarom sy so lank wegbly nie. Maar toe sy Vader en dogter so liefderyk daar sien aankom, met die spore van trane nog op hulle gesigte, het sy dadelik geraai wat gebeur het; sy het hulle tegemoetgesnel, en skoon vergeet van die bredie.
En glo dit as julle wil, daardie aand het Jack onverwags tuisgekom.
)Jack het later self predikant geword, en Margaret ius met 'n predikant getroud.)
Slaaptyd stories
Deel Vier
deur Arthur S. Maxwell
0 notes
Text
Rooiborsie vertraag die Trein
"Ja," het 'n groot lokomotief tot stilstand gebring, sommer net 'n klein rooiborsie!" Twee dogtertjies het my hierdie storie vertel, en ek weet dat dit waar is, waant dit het in hulle dorp plaasgevind. En volgens wat hulle my vertel het, het die hele dorp baie lank oor die voorval gepraat.
Dit het een namiddag begin toe 'n goedere trein by die stasie uitgestoom het. Die trein was nie ver nie toe die kondukteur 'n rooiborsie al langs die trein sien vlieg.
"Kyk na daardie voël," het hy vir die man by hom gesê: "hy volg ons mos."
"Ja, waarlik! dit lyk al of hy onder die kondukteurswa wil invlieg. Hy sal seker netnou wegvlieg." Maar die voël het al langs die kondukteurswa gevlieg. En namate die trein vinniger geloop het, het die voël vinniger gevlieg. Later het die trein te vinnig gegaan en die arme voëltjie moes opgee. Hy het sommer daar op 'n boom gaan sit, en hulle het hom later nie meer gesien nie.
Waarom die kondukteur hom oor 'n voëltjie nou bekommer, weet ek nie, miskien was dit omdat die voëltjie so verleë en verlate gelyk het toe hy die stryd gewonne moes gee. Toe die trein by die volgende stasie stilhou, het hy besluit om te gaan ondersoek instel. En hoe dink julle, wat het hy gevind? Voor, half onder die wa, in 'n hoekie, was daar 'n nessie met drie ligblou eiertjies daarin!
Nou het hy geweet waarom daardie arme voëltjie so vinnig langs die trein gevlieg het. Waar sou die voëltjie nou wees? Sou dit die trein agtervolg het?
Hulle het by daardie stasie gebly so lank moontlik, en gehoop dat die voëltjie betyds sou opdaag, maar dit het nie gekom nie. Voordat die trein weer vertrek het, het die kondukteur met die masjnis gaan praat, en hom vertel van die nessie met die eiers.
Daardie masjinis het ook 'n baie sagte hart gehad soos die kondukteur, en hy het belowe om die lokomotief nie te laat ruk sodat die eiertjies nie miskien uit die nessie rol nie. Hy het die lokomotief altyd baie versigtig tot stilstand gebring.
So het hulle gery tot by die eindstasie, en weer terug. By elke stilhouplek het die kondukteur gaan kyk of die eiertjies nog veilig was.
Eindelik was die trein weer terug by sy ou stasie. Maar waar sou die rooiborsie wees wat hulle laas daar eensaam op die boom agtergelaat het?
De rooiborsie was nie baie ver nie, want eerlank het dit daar aangevlieg gekom, reguit na die nessie, en weer op die eiertjies gaan sit.
Maar wat nou gedoen? Die kondukteur kon baie maklik heeltemal van daardie nessie vergeet het, maar hy het nie. Hy het 'n baie sagte plekkie in sy hart gehad vir daardie voëltjie. Hy het die stasiemeester van die nessie vertel wat ook daarna kom kyk het.
Die stasiemeester het gevoel dat hulle die wa behoort af te haak en daar te laat staan totdat die eiertjies uitgebroei was, want hy het ook 'n baie sagte hart gehad, net soos die kondukteur en die masjinis. Maar hulle sou dit nie kon doen sonder die toestemming van die hoofkantoor nie, en om sake nog moeiliker te maak, was dit die enigste kondukteurswa wat hulle daar gehad het, en dit moes weer die volgende dag vertrek. Die groot vraag was of die hoofkantoor gewillig sou wees om betyds 'n ekstra wa te stuur net omdat daar 'n rooiborsie op die was wat hulle het sit en broei.
Dit sou hulle seker nie doen nie. Die stasiemeester het darem besluit om die hoofkantoor te bel en te doen wat hy kon. Die ergste wat hulle kon doen, is om te weier. Soos dit gewoonlik in sulke gevalle gaan, het die nuus van die rooiborssie en haar nessie baie gou versprei; die kondukteur het daarvan gepraat; die masjinis het daarvan gepraat; en die kinders het daarvan gepraat totdat die hele dorp daarvan geweet het, en die mense het na die stasie gestroom om die nessie te sien.
Ook die koerante het van die storie gehoor; hulle het van die rooiborsie geskryf, en ook prente geplaas. Soos julle self kan begryp, het die koerantberigte groot belangstelling gaande gemaak.
Die nuus het so vinnig versprei dat ook die spoorweghoofkantoor daarvan te hore gekom het. Toe die stasiemeester dus die hoofkantoor bel om te vra of hulle nie 'n eksta konkukteurswa kon stuur nie, het die bestuurder dadelik ja gesê. Ook het hy gesê dat hulle die wa met die nessie op 'n stil plek moet trek sodat die rooiborsie haar eiertjies kan uitbroei.
Die ekstra wa het die volgende dag daar aangekom. Daarna het mevrou Rooiborsie dag na dag op die eiertjies gesit, terwyl honderde nuuskieriges - kinders en grootmense - haar kom beloer het. Eendag het iemand gesien dat daar kleintjies in die nessie was, en toe het daar weer net soveel mense kom kyk hodat die voëltjie haar kleintjies voer. Die eienaars van daardie spoorweg het beveel dat daardie wa daar moes staan totdat die kleintjies kon vlieg en die nes verlaat. Dit was om hierdie rede dat die rooiborsiegesin die gaste van die spoorweg was totdat hulle besluit het om elders te gaan woon.
'n Mens sou dink dat dit snaaks is dat daardie vier manne sulke moeite gedoen het net ter wille van 'n ou voëltjie! Maar dit laat ons besef hoe baie teerhartige mense daar nog in die wêreld is. Die bietjie wat hulle kon doen vir daardie ou rooiborsie het hulle groot vreugde verskaf.
Slaaptyd stories
Deel Vyf
deur Arthur S. Maxwell
0 notes
Text
Slaaptyd Stories: Die Klein Sendelinge
Daar is twee dinge wat julle behoort te weet omtrent Bettie. Eerstens, toe hierdie wonderlike ding gebeur het, was sy net agt jaar oud. Tweedens, haar glimlag was "soos die van 'n engeltjie." En dit moes seker 'n baie lieflike glimlaggie gewees het.
Maar daar was nog iets omtrent haar wat julle behoort te weet. Sy het baie graag "sendingwerk" gedoen, soos sy dit genoem het. By elke geleentheid wat sy gekry het, het sy in die strate van die stad waar sy gewoon het, gegaan om traktate en blaaie en Bybeltjies uit te gee wat vertel het van die liefdie van Jesus. Sy het so lieflik geglimlag vir die mense dat hulle nooit geweier het om 'n traktaat van haar te neem nie. Sy was so opgeruimd en vriendelik dat hulle nie kon help om een te neem nie.
Toe sy weer een Sondagnamidag glimlaggend besig was om haar "sendingblaae" uit te gee, het sy skielik iets gesien wat haar vir 'n oomblik baie bang gemaak het. 'n Man het waggelend na haar toe aangekom met die sypaadjie. Hy was dronk!
Die meeste dogtertjies - en sommige seuntjies ook - sou sekerlik weggehardloop het van 'n dronk man af. Maar nie Bettie nie. Sy was 'n dapper dogtertjie. Sy was besig om sendingwerk te doen vir Jesus, en sy sou nie weghardloop nie.
Ewe dapper het sy na die dronk man gegaan en hom een van die evangelies in sakformaat aangebied. Hy het gaan staan en na haar gekyk.
"Mag ek hierdie boekie aan u gee?" het sy gevra.
"w-w-w-waater boekie?" het hy nors gevra.
"Hierdie boekie," het Bettie gesê, en dit so gehou dat hy dit kon sien.
"En dit sal u baie goed doen, meneer."
Die dronk man wat nou gestaan en kyk het na die lieflike ou gesiggie en glimlag, het die boekie geneem.
"H-h-hoeveel kos dit?" het hy hikkend gevra."
"O, niks nie, meneer," het Bettie gesê. "Ons vra niks daarvoor nie. Ons gee dit aan u om te lees. En regtig, dit sal u baie goed doen."
Die arme man het die boekie in sy sak gesteek. Bettie het verder geloop, en vir 'n oomblik het die man daar spraakloos gestaan. Toe het hy ook weggestap. Maar hy kon daardie dogtertjie nie uit sy gedagte kry nie. Daardi engelglimlaggie het hom bekoor.
Na 'n rukkie het hy die boekie uit sy sak gehaal en begin lees. Dit was die Evangelie van Johannes. Hy het dit gelees en gelees, en waar hy gelees het van die liefde van God vir die armes en die sondaars, is sy hart aangeraak.
"So lief het God die wêreld gehad," het hy gelees, "dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê."
Ook het hy hierdie heerlike belofte gevind: "En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word. As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen." Joh. 14: 13,14.
Toe het hy verder gelees: "As julle My liefhet, bewaar my gebooie. En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle 'n ander Trooster gee om by julle te bly tot in Ewigheid." Verse 15, 16.
Eindelik het hy sy oë hemelwaarts gerig en God gevra om sy sondes te vergewe en hom te help om beter te lewe.
Hy het tot bekering gekom en is later gedoop. Presies een jaar later nadat hy Bettie ontmoet het, het ek hom ontmoet. Hy was toe 'n diaken van 'n groot kerk in Kalifornië. Hy het my vertel dat hy daardie dag toe Bettie vir hom geglimlag het, sonder werk, sonder tuiste, en sonder geld was - hy het niks gehad nie.
Vandag is hy gelukkig en voorspoedig, en daar is in al sy behoeftes voorsien. Was dit nie 'n mooi ding wat Bettie gedoen het nie! Daar sal eendag 'n pragtige ster in haar kroon wees omdat sy 'n siel na Jesus gebring het!
Mag God alle dogtertjies, en ook alle seuntjies seën wat "sendingwerk" soos hierdie doen.
Slaaptyd stories
Deel Vier
deur Arthur S. Maxwell
0 notes
Text
Slaaptydstories in Afrikaans
Terug van die Strand
Nellie en Frankie was onderweg na die strand. Hoe gelukkig was hulle nie! Daar was niks waarvan hulle so baie gehou het as om op die sand te speel, of in die vlak water te loop nie.
"Ek wil julle darem net aan een ding herinner," het Pappie gesê toe hy daar stilhou. "Onthou dat hulle albei nuwe skoene aanhet. Trek julle skoene uit sodra julle by die strand is, en sorg dat hulle nie verloor nie."
"Ja Pappie," het hulle albei gesê "ons sal." Maar hulle het nie eintlik gedink wat hulle gesê het nie, want in hulle verbeelding het hulle al in die water rondgestap.
Toe die motor stilhou, het die twee opgewonde kinders uitgespring, en reguit na die water gehardloop. Skielik het Nellie haar skoene onthou; sy het hulle uitgetrek en gesit waar sy seker was dat sy hulle weer sou vind. Maar Frankie was so gretig om by die see te kom dat hy byna met skoene en al in die water in is. Hy het sommer sy skoene daar uitgeskop, hulle laat lê net waar hulle geval het, en hy is die water in. Hoe heerlik het hulle daar gespeel!
Toe hulle moeg gespeel was in die water, het hulle sandkastele gebou, reisies gehardloop, en toe weer in die water geloop. Hulle was so besig dat hulle nooit die keer van die gety opgemerk het nie, en die water het al hoër en hoër gestyg tot by die plek waar Frankie se skoene lê.
Eindelik, te gou soos hulle gereken het, het Pappie vir hulle geskreeu om terug te kom. "Dit is tyd om huis toe te gaan: kom jou julle twee."
Toe was daar 'n gesoek na skoene. Nellie het hare gekry, want sy het hulle op 'n veilige plek gelaat. Maar Frankie se skoene was nêrens te sien nie. Hy was nie eens meer seker van die plek waar hy hulle gelaat het nie, want dit was nou alles toe onder die water!
Hulle het gesoek en gesoek, maar tevergeefs. Daar was geen skoene nie. Pappie het gesê dat Frankie baie agtelosig was, en dat hy kaalvoet sal moet huis toe gaan. Maar Nellie het gesê dat sy nog 'n paar slippers in die motor het, en dat Frankie hulle solank kan aantrek.
So is hulle dan huis toe; Nellie met haar nuwe skoene aan, en Frankie met Nellie se ou slippers. Frankie het glad nie daarvan gehou om meisie-skoene te dra nie; hy wou sy skoene hê. Ook Pappie en Mammie was ontevrede, want hulle sou weer 'n nuwe paar skoene moes koop. "Miskien kan ons weer gaan soek," het Pappie gesê.
"Dit sal nie help nie," het Moeder gesê. "Die skoene sal by die tyd al diep in die see wees."
"Wel, ons kan darem maar gaan kyk," het Pappie gesê, "Dit sal in elk geval geen kwaad doen nie."
Die volgende oggend is hulle almal weer na die see toe om na Frankie se skoene te soek. Maar, vreemd genoeg, was dit hierdie keer Pappie en Mammie wat uit die motor geklim het; Nellie en Frankie het bly sit. Hulle het gesê dat hulle 'n rukkie wou wag, maar het nie gesê waarom nie. Dit was vir Pappie en Mammie snaaks, en hulle het toe maar alleen gaan soek.
Daar, alleen in die motor, het Nellie en Frankie by die agterste sitplek neergekniel en begin bid. Nellie was maar nege jaar, en Frankie net sewe jaar oud. Maar hulle het geglo dat Jesus kinders liefhet en hulle graag help wanneer hulle in die moeilikheid is. Hulle het gebid dat Frankie se skoene gevind mag word! Ses maal het hulle dieselfde gebedjie oor en oor gebid.
Toe het hulle Pappie en Mammie vinnig sien terugkom na die motor toe. Hulle was baie blymoedig en opgeruimd.
"Kyk!" het Nellie uitgeroep. "Kyk wat dra Pappie daar!"
"My skoene! My Skoene! het Frankie uitgeroep. Ja, hulle het die skoene gevind, en onbeskadig ook. Pappie het hulle gevind nie ver van waar die motor stilgehou het nie. Waarom hy hulle juis daar gevind het, kon niemand sê nie, maar almal was dankbaar, veral Nellie en Frankie, wat toe vertel het wat hulle gedoen het terwyl Pappie en Mammie na die skoene gaan soek het.
Dit is so 'n kleinigheid om oor te bid, sê julle. Ek weet. Dit was maar net 'n paar skoentjies! Maar waarom nie? Jesus stel belang in al die klein dingetjies van ons lewe. Het Hy dan nie van die mossies gesê, "Nie een van hulle is voor God vergeet nie?" Ja, Hy het, en Hy het verder gesê, "Julle is meer werd as baie mossies." Kukas 12: 6,7.
Ons moet dus nie versuim om oor klein dingetjies sowel as groot dinge te bid nie. Nie een van ons gebede - nie 'n enkele een nie - word deur God vergeet nie.
Slaaptyd stories
Deel Vier
deur Arthur S. Maxwell
0 notes
Text
Slaaptydstories in Afrikaans
Die Inbreker
Muriel het van die skool af gehardloop gekom.
"O Moeder," het sy uitgeroep, "hoor net hier; al die meisies in my klas gaan na Jenny se partytjie aanstaande Donderdagaand.
"Gaan hulle?" het Moeder gesê, en sy het hard geprobeer om belangstelling te toon, want sy was baie moeg. "Dit sal baie lekker wees."
"Maar dis nie al nie," het Muriel gesê; "byna almal van hulle het my vertel dat hulle die pragtigste nuwe rokke gaan he - rokke van die mooiste goed."
"Dan voel hulle seker baie bly," het Moeder gesê. "Ja, maar wat van my? Ek kan tog nie in my ou rok gaan nie."
"Jou rok is nie so oud nie," het Moeder gesê. "Jy het dit dan nou die dag op jou verjaarsdag gekry. Hoe dit ook al sy, ek sien glad nie hoe ek 'n nuwe rok teen Donderdag kan klaarmaak nie."
Muriel het glad nie die moee trek op Moeder se gesig gesien by die gedagte aan nog 'n rok maak nie. "Moeder!" het sy uitgeroep, "Moeder wil tog nie sê dat ek nie 'n nuwe rok vir Donderdag kan hê nie? Ek moet dit eenvoudig he! Ek kan nie dink om na Jenny se party te gaan daarsonder nie. Wat sal hulle van my dink? Al die ander meisies sal nuwe rokke hê, en daar sal ek wees in daardie ou katoenrokkie! Ek moet eenvoudig 'n nuwe rok hê."
Daardie uitdrukking van blye verwagting wat op Muriel se gelaat was toe sy die eetkamer ingehardloop gekom het van die skool af, het nou plek gemaak vir 'n vreeslike vies uitrdukking. Hoe meer sy aan die sogenaamde onreg gedink het, hoe leliker het die uitdrukking op haar gesig geword. Geleidelik het sy toegee aan n baie slegte bui.
Sy het begin huil, met haar voet op die vloer gestamp en gesê, "Ek wil 'n nuwe rok hê!"
"Maar, kyk nou," het Moeder gese. "Dis mos glad nie mooi vir 'n meisie om so tekere te gaan nie. Wat sou Jenny daarvan sê as sy jou nou kon sien?"
"Ek gee nie om wie my sien nie," het Muriel in trane gegil.
"Kyk hier, Muriel", het Moeder gesê. "Jy maak glad nie mooi nie. Jy is seker baie moeg. Gaan ddadelik na jou kamer. Ek sal jou ete later bring."
Muriel het die vertrek woedend verlaat, en sy is die trap op na haar kamer toe. Later het Moeder haar aandete gebring. Sy het nie veel gesê nie, en sy het net lank genoeg vertoef om klein Jimmie in die bed te sit. Jimmie het hom aan die hele affêre nie gesteur nie, maar dit was darem vir hom snaaks dat Muriel so vroeg gaan slaap het.
'n Hele paar uur het verby gegaan. Muriel het probeer slaap, maar sy kon nie. Haar gewete het haar wakker gehou. Sy het geweet dat sy baie jammer behoort te wees oor haar gedrag, maar iets het haar teruggehou om dit te herken. Sy het rondgerol in haar bed, en nog 'n uur het verbygegaan, en toe nog een. Eindelik het sy aan die slaap geraak.
Dit was vir haar of sy nog skaars aan die slaap was toe iets aan haar neus getrek het. Dit was Jimmie.
"Sus, Sus," het hy gese, "Ek is bang. Mag ek by jou kom slaap?"
Muriel het regop gesit.
"Wat makeer, Jimmie?" het sy gesê, en die outjie opgetel langs haar.
"Het jy nie gehoor nie?" Die geraas daar onder!"
"Nee," het Muriel gese. "Ek het geslaap. Wat se soort geraas was dit?"
"Iemand stap daar onder rond," het Jimmie gese.
Muriel het geluister. Dit was 'n baie donker nag, en stil. 'n Koel luggie het deur die venster ingewaai. Die eetkamerhorlosie het twee-uur geslaan.
"Dis al twee-uur," het Muriel gese. "Niemand kan nou nog daar onder wakker wees nie."
"Maar daar is iemand daar onder, ek het hom netnou gehoor," het Jimmie gese.
"Jy moes dit ook gehoor het."
Skielik het Muriel se hart begin bons, en sy het sommer baie bang geword. Sy was nou seker dat sy ook iemand hoor loop het.
"Het jy gehoor," het Jimmy gevra.
"Ja," het Muriel gesê. "Ek wonder-"
"Dink jy dis 'n inbreker?" het Jimmie fluisterend gevra.
"Dit kan wees," het Muriel gesê, en nou was sy regtig baie bang.
"Wat sal ons doen?" het Jimmie gevra. "Dink jy hy sal ons seermaak?"
Muriel het nie geweet wat om te sê nie. Sy wou eers haar kop toetrek. Toe het sy onthou hoe sy eendag aan die meisies by die skool gesê het was sy sou doen as sy ooit 'n inbreker teekom. Sy het 'n oomblik gedink.
"Daar is dit weer!" het Jimmie bang gefluister, en sy sussie begin vasklem.
"Jimmie," het Muriel gese, "weet jy wat, ek sou baie graag wou sien hoe 'n inbreker lyk, net eenmaal, sodat ek die meisies by die skool kan vertel."
"Ek wil nie een sien nie," het Jimmie gese.
"Sal jy saam met my kom as ek onder toe gaan?" het Muriel gevra. "Ek sal na jou kyk."
Jimmie het gehuiwer, maar hy het darem saam gegaan. Hulle het uit die bed geklim, en is op hulle tone na die deur, en het dit oopgemaak.
Die skarniere het so geraas dat hulle amper weer terug bed toe is. Maar hulle het mekaar se hande styf vasgehou, en stilletjies na die trap gegaan.
Hulle het so 'n rukkie gewag, en toe is hulle verder.
K-r-a-a-k! het een van die trappe weer gegaan. Weer het hulle gewag. Toe is hulle verder. Kraak! Kraak! het die trappe geraas.
"Hy sal ons hoor," het Jimmie gewaarsku, "Laat ons teruggaan."
"Wag maar 'n bietjie," het Muriel gefluister, en sy hand 'n druk gegee. "Ons is amper daar. Kyk daar is lig in die eetkamer. Ek moet sien hoe 'n inbreker lyk, want ek mag nooit weer die kans kry nie."
"Maar sal hy ons nie seermaak nie?" het Jimmie gevra.
"Ons sal vinnig weghardloop," het Muriel gesê.
Hulle was nou onder in die gang.
Stilletjies het hulle na die deur gesluip. Dit was op 'n skrefie oop. Muriel het dit nog so 'n klein endjie oopgestoot. Toe weer 'n bietjie, en toe nog 'n bietjie. So is die deur al wyer en wyer oopgestoot todat Muriel gemeen het dat sy nou sou kon inloer.
Jimmie het haar hand baie styf vasgehou terwyl sy ingeloer het.
"Muriel! het 'n stem uitgeroep, en 'n skêr het grond toe getuimel.
"Moeder!" het Muriel uitgeroep.
Hulle het na mekaar gekyk.
"Moeder! Wat doen Moeder hierdie tyd van die nag hier? Dit is al amper half-drie, en Moeder lyk so moeg.
"Ek maak sommer 'n rok," het Moeder gesê.
"Tog nie my rok nie", het Muriel uitgeroep. "O, dit is! Moeder moes dit nie gedoen het nie. Ek verdien dit nie. Moeder moes nie so laat wakkergebly het nie. en Moeder is so moeg!"
Sy het haar Moeder omhels. "Ek is so jammer," en toe het sy begin huil.
"Toe maar, toe maar,' het Moeder gesê. "Die rok is bykans klaar. Kom laat ons nou almal gaan slaap. Maar wat doen Jimmie hier?"
"Muriel het gesê dat ek 'n inbreker sou sien as ek saam met haar kom, en nou is daar nie een nie," het Jimmie teleurgestel gesê.
"Ek is jammer," het Muriel gesê, toe hulle saam boontoe is, "maar Mammie is tog seker baie beter as 'n inbreker, is sy nie?"
Slaaptyd stories
Deel Twee
deur Arthur S. Maxwell
0 notes
Text
Slaaptydstories in Afrikaans
Waagstukke vir ander
(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)
Mense wat hulle lewe waag net om hulleself te verheerlik, word waaghalse genoem , maar niemand sal mense wat hulle lewe waag vir ander waaghalse noem nie. Sulke mense word gewoonlik helde of heldinne genoem.
Wat sou julle hiervan dink?
Luister.
'n Vrou het nou die dag aan my geskryf en gesê dat sy die dapperste seun in die hele wêreld ontmoet het.
Sy was met vakansie by een van daardie strandoorde in die noorde van Engeland. Toe sy een namiddag weer gaan swem het, het sy skielik in diep water in die moeilikheid geraak.
"Hoe meer ek gespartel het," het sy gesê, "hoe verder is ek die see ingevoer. Om die een of ander rede het die ander baaiers nie my hulpgeroep gehoor of gemerk dat ek in die moeilikheid was nie. Ek het vreeslik benoud geword, en toe, met 'n stille gebed tot ons hemelse Vader wat elke noodkreet hoor, het ek weer geroep om hulp."
Op daardie oomblik het ek 'n jong seun gesien wat na my toe swem. Hy was seker nie ouer as twaalf jaar nie; hy het my aan die arm gegryp en geprobeer om my kant toe te trek. Eindelik het hy uitgeput geraak, maar van die ander het ons gevaar gesien en ons te hulp gesnel sodat ons albei veilig aan wal gebring is.
Later het ek verneem dat dit die eerste maal was dat daardie seun dit in die see gewaag het; hy het voorheen altyd in die veilige poele geswem.
Sy naam? Nee, dit ken ek nie. Ek verstaan dat hy sommer daar onder die mense verdwyn het, nog voordat die dame kon dankie sê. Hy het sy lewe gewaag om iemand anders s'n te red - iemand wat hy nie eens geken het nie. Omdat hy so onselfsugtig en nederig was, kan ons nie anders as om hom lief te hê nie. Ons wens ons kon hom 'n handdruk gee, en sê: "Mooi so ou seun, dit was baie dapper van jou!"
Hier is nog 'n storie, maar hierdie keer oor 'n dapper meisie. Sy woon in een van die kusdorpies naby Londen. Eendag het sy gaan wandel met 'n vriendinnetjie wat 'n baba in 'n kinderwaentjie gestoot het.
Die twee dogters was baie gelukkig, want hulle het graag die kinderwaentjie daar op en af gestoot. Dit was 'n winderige dag en die see het groot branders gemaak. Kort-kort het die twee teen die reëlings gestaan en kyk na die groot branders at teen die strand geklots het.
En toe het daar 'n vreeslike dinge gebeur. Vir 'n oomblik - net vir 'n oomblik - het hulle die kinderwaentjie gelos!
Skielik het 'n vlaag wind dit gegryp en oor die seemuur gewaai. Met 'n groot plas het dit in die water geval. Die twee meisie het die steilte af gehardloop - Bella, die oudste was voor. Sonder om vir een oomblik te dink, het sy in die see gespring en die waentjie geryp, en toe het sy die baba gegryp.
Sy kon nie terug nie, want die water het haar ingetrek, en daar het sy met die baba gespartel om bo water te bly. Intussen het die kinderwaentje al verder weggedryf. Teen daardie tyd het 'n man in die nabyheid haar gevaar gesien. Hy het ingespring en Bella en haar baba veilig aan wal gebring. Hoe dapper was Bella? Sy het haarself vergeet en aan ander gedink. Hierdie daad van haar sal oor die hele wêreld vertel word.
En hier is 'n storie omtrent 'n brand: In 'n dorp in die suide van Engeland was twee kinders van agt en twee jaar onderskeidelik, alleen in die huis; hulle moes na 'n baba van agt maande kyk. Hulle ouers sou vir 'n rukkie weg wees om vriende te gaan ontmoet.
Twee ander kinders - een nege en een vier jaar oud - het by hulle kom speel. Vir 'n tydjie het hulle almal lekker saamgespeel, en toe, vir een of ander rede, het die ligte uitgegaan. William, die oudste seun van agt jaar het twee kerse gebring en hulle opgesteek. Die een kers het omgeval en die rusbank aan die brand gesteek.
Baie gou was die hele rusbank aan die brand. William, en Cyril die negejarige seun, het geprobeer om die vlamme met hulle kaal hande dood te slaan. Hulle hande het natuurlik verbrand, en die vlamme het voortgewoed. Toe William die gevaar besef, het hy uitgeroep, 'Ons moet die ander red.'
Hy het die baba gegryp en uitgehardloop; daar het hy hom aan iemand oorhandig, en toe is hy weer die huis in en met die trap op om sy sustertjie te gaan haal. Cyrl het sy eie klein broertjie uitgedra.
Teen daardie tyd het die mense in die hele straat die brand gesien. Hulle het die brandweer ontbied, en met die gelui van hulle klokke het die masjiene aangestorm gekom. Onderweg terug het Vader en Moeder die vlamme deur die vensters van hulle huis gesien, en ook die brandweermanne, en hulle het die ergste gevrees.
"Daar is vyf kinders in daardie huis!" het hulle geskreeu. "Sal iemand hulle nie red nie?"
Maar hulle het nie geweet dat die kinders alreeds gered was deur twee van die dapperste brandweermannetjies nie. Dit was 'n kordaatstuk van daardie twee seuns, was dit nie?
Hoewel ons dus nooit ons lewe moet waag net om ons eiewaan te streel nie, moet ons altyd gereed wees, as die omstandighede dit vereis, om dit vir die redding van ander te waag. Dit is wat Jesus gedoen het, en Hy verwag dat ons dit ook sal doen. Toe Hy op die aarde gewoon het, het Hy gesê: "Elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soo die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy siel te gee as 'n losprys vir baie." MATT 20:28. "Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee." JOH. 15:13
Slaaptyd stories
Deel Vyf
deur Arthur S. Maxwell
0 notes
Text
Hoe Helen geluk gevind het Slaaptyd Stories in Afrikaans
(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)
Helen het in die huis rondgeloop, en sy het so treurig gelyk asof sy al haar poppe gebreek en al haar geld verloor het.
"Wat makeer jou, Helen?" het Moeder gevra. "Hoekom lyk jy so treurig?"
"Ek voel sleg," het Helen gesê en sy het toe sommer ook begin huil.
"Maar, wat makeer dan?" het Moeder teerhartig gevra.
"Daar is niemand om mee te speel nie," het Helen in trane gesê. "Daar is niks om te doen nie, en nêrens om te gaan nie." En toe het sy nog harder begin huil.
"Jou arme kind," het Moeder gesê, "laat ons sien wat gedoen kan word."
"Daar kan niks gedoen word nie," het Helen met haar huilstemmetjie gesê. Moeder het die trane afgevee, en gesê: "Waarom gaan jy nie met die dogtertjie langsaan speel nie?"
"Sy wil nie met my speel nie," het Helen gesê.
"En waarom wil sy nie met jou speel nie?"
"Sy gaan saam met haar Mammie uit, en sy wil liewer saam met haar Mammie gaan as om met my te speel."
"Ek sien; maar waarom speel jy nie met jou boeke nie? Hulle is dan so vol mooi prente."
"Ek wil nie na prente kyk nie."
"Wel, waarom gaan jy nie - laat ek sien - waarom gaan jy nie na jou tuin kyk hoe mooi alles is na die reën nie?"
"Ek wil nie na my tuin gaan kyk nie," het Helen gesê terwyl sy haar ogies met haar sakdoek afvee. Skielik het Moeder aan 'n nuwe plan gedink.
"Nou weet ek!" het sy uitgeroep.
"Wat?" het Helen nou ewe belangstellend gera.
"Ek weet nou wat makeer," het Moeder gesê; "ek weet regtig."
"Ek makeer niks nie," het Helen gesê; ek wil iemand hê om mee te speel."
"Ja, ek weet," het Moeder gesê; "daar is iets verkeerd binne jou."
"Waar?" het Helen gevra. "Ek voel niks binnekant my nie."
"Daar is iets," het Moeder gesê met 'n glimlag.
"Wat makeer dan?" wou Helen weet.
"Daar is 'n klein gedagtetjie wat nie heeltemal reg is nie."
"Wat nie heeltemal reg is nie?" Ek wil net iemand hê om mee te speel."
Toe het Moeder gesê: "As jy net vir 'n paar minute sou ophou om aan jouself te dink, en begin dink aan iets wat jy vir iemand anders kan doen, dan sal jy sommer dadelik weer lekker voel."
Dit was heeltemal iets nuuts vir Helen; daarvoor het sy geen antwoord gehad nie, en sy het haar Moeder laat voortgaan.
"Dink jy nie dat dat 'n goeie plan sou wees om iemand anders bly te maak nie - sê maar met 'n aangename verassing of so iets?"
"Ek weet nie van iemand wat ek kan verras nie," het Helen gesê.
"O, ja, jy weet," het Moeder gesê. Onthou jy nie daardie siek dogtertjie wat ons 'n paar dae gelede in die hospitaal gaan besoek het nie? Jy weet, daardie een wat nie kan loop nie. Jy het gesê dat jy so jammer is vir haar dat jy een van jou poppe aan haar sal gee om haar gelukkig te maak. Maar ek is bevrees dat jy alles daarvan vergeet het."
"O, ja ek het alles vergeet! het Helen gesê terwyl sy haar voorhofie frons. "En ek het haar belowe dat ek die pop sou bring; wat sal sy nou van my dink?
"Wel, waarom soek jy nie sommer nou daardie pop en trek hom mooi skoon aan nie? Ons kan dit dan more na die hospitaal neem."
"Goed, Moeder," het Helen gesê, nou die ene belangstelling. "Ek sal die pop se klere was."
"Ja," het Moeder gesê; "doen dit, want 'n mens kan nie 'n pop met vuil klere gee nie."
"Nee," het Helen gesê; "ek sal die kouse ook moet heelmaak, want een het 'n gat in."
"Doen wat jy kan," het Moeder gesê; "miskien sal ek jou ook help."
Helen was nou sommer baie bedrywig, en sy het gesê; "Moeder, sal Moeder nie ook een van my prente-boeke in 'n mooi doos inpak en dit met lint vasbind nie? dan sal dit soos 'n mooi present lyk."
"Ek sal," het Moeder gesê; Helen het die pop gaan haal en nou was sy vreeslik besig.
Later het Moeder vir Helen hoor lag in haar kamer; sy het gaan loer, en daar het Helen op haar stoeltjie gesit, besig om die pop se kouse te stop.
"Ek is vreeslik besig," het Helen gesê, en sy het die trane nou heeltemal vergeet.
"Ek is bly," het Moeder gesê. "Weet jy 'n mens kan altyd baie pret hê wanneer jy besig is met iets wat iemand anders sal blymaak."
Slaaptyd stories
Deel Vyf
deur Arthur S. Maxwell
0 notes